Ek kan nie ‘n blog soos die een bedryf en nie bereid wees om my eie verhaal te deel nie, so, hier gaan dit, maar ek behou die reg voor om details van tyd tot tyd te wysig…
Soos met enige storie is daar baie detailtjies, maar ek gaan probeer om dit by die relevante feite te hou. Ek het as kind reeds geweet dat ek anders is ander mense – ek het nog altyd anders as die meeste mense gereageer op stimuli uit my omgewing. Ek het altyd ‘n swak selfbeeld gehad en gesukkel om naby vriende te behou. Ek sukkel om sosiaal aan te pas en my behoefte om aanvaar en verstaan te word het my al meermale gedryf om dinge te doen wat teen my beginsels is.
Soos die meeste mense wat Bipolêr het, is ek redelik kreatief en bogemiddeld intelligent. Dit veroorsaak dat ek sukkel om my aandag by een ding te bepaal en af te handel – ek maak bitter min dinge wat ek aanpak klaar, omdat ek maklik afgelei kan word deur iets anders wat my meer interesseer. Selfs hier en nou, is daar eintlik ander dinge wat my aandag vereis. Ek is egter nie “hiperaktief” nie. Ek sukkel ook finansieel om my begroting te laat uitwerk en het myself al dikwels in die moeilikheid bevind in die verband omdat ek verpligtinge aangegaan het wat ek nie kon nakom nie. Die gepaardgaande stres wat dié twee feite op ‘n huwelik plaas was bydraende faktore daarin dat my huwelik nie suksesvol was nie.
Ek het die eerste keer in my lewe depressief geraak op die ouderdom van 12. Ek het skole verwissel en gesukkel om aan te pas. Die tweede episode was ongeveer ‘n jaar later, toe my akademiese prestasie wesenlik verswak het en ek die enigste plek waar ek gevoel het ek myself kan laat geld, by die deur uit is. Ek het gevolglik besluit om akademie ‘n pit te druk en net verder deur my verdere akademiese loopbaan te “cruise”. Op 16 het ek vir ‘n onderwyseres gesê dat ek depressief voel, en vir ‘n geruime tyd al. Noudat ek weet waarvoor om te kyk, sien ek dat daar verskeie hipomaniese fases tussenin was, maar ek onthou nie veel daarvan nie – ek onthou gewoonlik nie baie van my maniese- of hipomaniese fases nie. Ek onthou nie baie van my eerste semester op universiteit nie – ek was te besig met ander dinge (a.g.v. manie/hipomanie). Gevolglik het ek dit nie gemaak nie.
Nadat ek opgeskop het op varsity is ek oorsee om myself te vind en hopelik bietjie rigting in die lewe te kry. Dit was slegs gedeeltelik suksesvol. Ek het ‘n bietjie rigting gevind, maar die raaisel van myself het net verder verdiep; gevolglik het my tweede poging om te studeer ook nie gewerk nie. Die feit dat ek by dwelms betrokke was terwyl ek oorsee was het ook niks goeds voorspel nie, gepaardgaande met die feit dat ek geleer het dat alkohol pret kan wees. Ek het eers onlangs besef watter uitwerking alkohol op my gemoed het, en ek vermy dit nou sover ek kan.
Ek het ongeveer twee jaar gelede besef dat daar ernstig fout is en dat ek hulp nodig het. Ek kon nie meer met enige iets cope nie. Omdat ek geweet het van iets soos “Maniese Depressie” het ek ‘n sielkundige gaan sien, en gehoop sy kan my daarmee help. Ek het gedink op daardie stadium dat dit ‘n sielkundige ding was; ek het eers later uitgevind dat dit fisiologies is. Ek is verwys na ‘n psigiater wat my positief gediagnoseer het met Bipolêre Afwyking (Tipe 2, rapid cycling). Hy het my vir my Tegretol voorgeskryf, en ek het redelik gestabiliseer, maar soos ‘n zombie gevoel, want ek was nie in staat om emosioneel op dinge te reageer nie; ek het dit gehaat.
Ek het egter nie van die psigiater gehou nie en het nie ‘n lang pad met hom gestap nie omdat ek gevoel het die man luister nie na my nie; dit het vir my gevoel of ek met ‘n muur praat en ‘n halfuur later ‘n verlengde voorskrif kry. Ek het gevolglik na ‘n ruk die behandeling ook gestaak, want ek het goed gevoel. Ek het dit gehaat om te voel dat ek op krukke deur die lewe moet gaan – ander mense dalk, maar nie ek nie. Ek het begin glo dat “mind-over-matter” genoeg was. Hoe verkeerd was ek tog nie! Ek bereken nou nog die koste van wat ek myself aangedoen het in daardie tyd – my huwelik het gevou in daardie tyd en… ja.
Ek het intussen ‘n ander psigiater begin sien, en ek hou meer van die een – ek dink ten minste hy luister; alhoewel hy ook al ‘n fout of twee gemaak het. Die eerste keer wat ek hom gesien het (Nov. 2008) was ek depressief tot op die punt dat ek wou selfmoord pleeg. Hy het my op Talomil gesit, en ek dink dit het my lewe gered. Ek het hom weer in Januarie 2009 gaan sien, omdat ek begin bang word het, en die simptome begin sien het, dat ek op die punt is om ‘n maniese fase te hê. Hy het gekies om my op Talomil te hou, en die volgende dag het die manie my geslaan. Dis die ergste episode wat ek in my lewe beleef het, en dit het twee weke geduur. Ek voel tans ek is op die hoogste punt van die roller-coaster se baan – hier lê ‘n baie groot afdraande voor my – ek vind dat die depressie wat noodwendiglik volg op ‘n maniese-/ hipomaniese fase direk eweredig is aan die intensiteit van die voorafgaande fase.
Hoe kry ek dit reg om met my toestand saam te leef? Ek weet eerlikwaar nie of ek doen nie, maar hier is raad wat ek kan deel…
1. Ontwikkel ‘n goeie ondersteuningstruktuur. Dit sluit geliefdes in, asook jou sielkundige en psigiater. Onder ideale omstandighede behoort jou geestelike herder ook in die struktuur te wees.
2. Neem verantwoordelikheid vir jou eie welsyn en help jou ondersteuningstruktuur om jou te help – sorg dat jy jou afsprake met jou psigiater nakom. Praat met die mense in jou ondersteuningstruktuur, al het hulle nie self BPD nie en al WEET jy hulle verstaan nie. SORG DAT JY OP JOU MEDIKASIE BLY, al laat dit jou hoe swak voel omdat jy op krukke deur die lewe gaan.
3. Vind alles uit wat jy kan rondom BPD en deel die inligting met jou geliefdes.
4. Of ek dit wil aanvaar of nie, God hou my hand vas; as dit nie vir God se genade was nie, was ek al lankal onderdeur. Op die einde van die dag het God jou gemaak, of jy dit wil hoor of nie, of jy dit glo of nie, en geeneen verstaan jou binnewerke so goed soos Hy nie, nie eers jyself nie. Sy genade is genoeg vir jou, en dis daar – gebruik dit. Asseblief.
Ten slotte: Onthou dat BPD ‘n fisiologiese toestand is wat sielkundig manifesteer. Dis ‘n toestand wat soos enige ander fisiologiese siekte, neem diabetes as ‘n voorbeeld, bestuur kan word. Net soos diabetes kan dit nie genees word nie, maar net so ook is iemand wat nie sy toestand bestuur nie, ‘n tikkende tydbom.
ek praat al met vreemde mense op die internet-ek cope glad nie meer nie. my man baklei elke liewe aand met my oor dit wat gebeur het in my maniese fase-was nou-net 3 weke in hospitaal. kan net nie meer nie-al wat my keer om 1n einde aan alles te maak is my 4 kinders. niemand verstaan nie-die idiote om my glo nie daar is so `n toestand nie. ek kan nie meer verduidelik nie-ek is so so so moeg.
elize
bloemfontein
Liewe Elize,
Ek het simpatie met jou. Die mense verstaan nie hoe mens voel nie en hulle besef ook nie dit is soos ‘n kroniese siekte waarvoor jy medikasie moet gebruik nie. My man verstaan ook nie my depressie aanvalle nie, al wat hy vir my sê is kom by of kom daaruit. Maklik gesê as gedaan.
Al wat my ook aan of in die lewe hou is my kinders en kleinkinders. Maar party dae is dit maar sleg en voel jy vir wat en vir wie. Ek het al voorheen probeer om myself te skiet, maar daardie aand kon ek nie die pistool gelaai kry nie. Ek was ‘n opgeleide skut, ek glo vandag nog dit is die Here wat my gekeer het om verder te gaan. Dit het my man kans gegee om by my uit te kom voordat ek weer kon probeer.
Elize onthou jy is kosbaar en enig vir jou mense maar veral ook vir God. Hy verstaan presies hoe ons voel. Hou vas aan Hom veral in die tye wat dinge nie so lekker is nie. Dit is soms net my geloof wat my deur ‘n episode kry. Ja en soms voel ek ook maar net trek die komberse oor my kop en los my uit, ja en die alewige moegheid, party dae voel ‘n mens dit is te veel om net te moet asemhaal.
Hou moed Elize en neem jou medikasie. Sterkte
Groete
Marietjie